Salóme van Rooyen

Caldo Bocca / Hot Mouth

Die kunstenaar skep karakters uit koppe, arms, bene en ander dele van insekte, larwes, seediere en plante, en tooi hulle in dele van rokke wat hoogmode was in die 1400’s tot 1800’s. Die resultaat is ses “goggavroue” wat in die tradisie van Renaissance-portrette op ‘n skoon roomwit agtergrond poseer. In ander werke staan hulle soos wafferse toeriste voor tonele uit die Victoria en Alfred Waterfront.

Die delikate detail en teksture van die illustrasies van die 1800’s se gravures, waarmee die kunstenaars in swart en wit lyne en tonale waardes wetenskaplik rekord gehou het van die diere- en plantlewe, asook alle aspekte van die kultuur – ook die modes en kostuums, vind ‘n heenkome in Van Rooyen se collages. Met tegnologie transformeer en manipuleer sy verlede met hede.